Jay – Sondag 21 Augustus 2011

Jay se langverwagte solo-album, SOLO, het einde 2010 die winkelrakke betree en spog reeds met PLATINUM STATUS en ook TWEE SAMA-nominasies vir Beste Pop Album en Beste Nuweling!

Jay

Jay se uitmuntende stemkwaliteit gekombineer met sy plat-op-die-aarde persoonlikheid, passie vir musiek asook pop-rock treffers vanuit die pen van Suid-Afrika se grootste liedjieskrywers sal maak dat dié solo-album ‘n debuut-album gaan wees om te onthou!

Hy is ook later vanjaar te sien in die rolprent PLATTELAND uit die pen van Deon Opperman en Sean Else waar hy die rol van Jakes vertolk. Steve Hofmeyr speel sy pa…

MEER OOR JAY

Jay het sy professionele debuut in 1999 gemaak as hoofsanger in Neil Lessick se Let’s Rock en was die Joseph se understudy in die Staatsteater-produksie van Joseph and his Amazing Tecnicolour Dreamcoat. Kort daarna was dit optredes in The Rocky Horror Picture Show, lid van die DooWah Boys en toe ‘n hoofrol in Janice Honeyman se pantomime, A Lad In a Lamp, waarvoor hy ‘n FNB Vita nominasie ontvang het. Jay se hoogtepunt in korporatiewe teater was ongetwyfeld sy deelname aan oud President Nelson Mandela (Madiba) se 85ste Verjaardagvieringe wat internasionaal uitgesaai is.

In 2001 het hy ook die ATKV Crescendo-kompetisie saam met Joe Niemand gewen en die album wat daaruit gevloei het is vir twee GMT-toekennings benoem waarvan hul die toekenning vir Beste Pop Album ontvang het.

Sedert 2001 was sy hooffokus – EDEN. Onder leiding van Coleske Artists het EDEN verskeie platinum en dubbel platinum albums uitgereik en verskeie treffers op radiostasies reg oor die land gehad. Hulle spog ook met ‘n hele rits SAMA-nominasies en twee SAMA benoemings – Beste Afrikaanse Pop Album. Eden het ook nog ‘n verdere drie toekennings vir Album Van die Jaar ingepalm tussen die Huisgenoot Tempo en die Rapport Vonk-toekennings. Eden se nuwe album, Dekade is vroeër vanjaar uitgereik as dubbel CD met treffers van die afgelope tien jaar. Jay was ook weer onlangs saam met EDEN te sien in Janice Honeyman se pantomime, Aladdin en het gehore staande gehad aand na aand.

SOLO

MEER OOR DIE ALBUM, SOLO

Solo is ‘n baie opwindende hoofstuk in Jay se lewe…

SOLO spog met ongelooflike liedjies uit die pen van Ewald Coleske, Reana Nel, Dewald Wasserfall en Jay self het saam met Ewald vir meeste van die snitte op die album gesorg. Die album, SOLO, bevat 13 snitte waarvan nie minder nie as 11 oorspronklik is.

Daar is besonder baie tyd spandeer aan detail tydens produksie van dié album en die liedjies vertoon soos hulle bedoel was toe dit geskryf is. Die lirieke op SOLO is eerlik en handel oor onderwerpe waarmee ieder en elk kan identifiseer.

Die aanhangers en kritici kan verwag om kommersiële pop klanke te hoor, maar sal ook hul sintuie kan treat met ‘n pop-rock klank waarmee daar nog nooit in Afrikaans ge-eksperimenteer is nie. Die goeie vocal production en die feit dat die onderwerpe relevant en van persoonlike waarde vir Jay is, rond dit alles af en maak hierdie album een waaroor Jay en Coleske Artists baie trots kan wees. SOLO gaan verseker sy merk los in die Suid Afrikaanse musiekbedryf.

Jay se eerste enkelsnit vanaf SOLO – IS EK NIE DIE EEN beloof ‘n groot treffer met sy catchy lirieke en melodie te wees. Jy kan nie anders as om jou voet op die ritme te tik en saam te sing op hierdie een nie…

KAN NIE SONDER JOU met sy duidelike rock-invloed asook die emosioneel belaaide ballade, SOMS SIEN JY MY is snitte wat die album gaan vlerke gee. Ander snitte sluit in MY HART WIL JOU NIE LOS NIE, PAD TERUG HUIS TOE, JY’T GESê, BAIE VAN MY VIR NET ‘N BIETJIE VAN JOU, IEWERS en KISS A GIRL.

MELANIE uit pen van Johan Vorster is defnitief ‘n aansteeklike pop snit wat reeds vanjaar tydens Huisgenoot Skouspel baie goed ontvang is.

SOLO sluit ook twee duete met Lianie May in waarvan die splinternuwe treffer, IN A MOMENT LIKE THIS reeds baie gespeel word op meeste radiostasies. As bonussnit is hulle immergroen duet (wat ook Musiekvideo van die Jaar by die Huisgenoot Tempo- en die Rapport VONK-toekennings gewen het) TOE STOP MY HART ingesluit. Kyk uit vir musiekvideo’s van SOMS SIEN JY MY en MELANIE.

Comments
Leave A Comment