Nike hulle!

- Uit die Nuusbrief van 9 Junie 2011 -

Hulle kom van Cradock af – die skaapboer en sy vrou. Hulle het pragtige hoë-kwaliteit wolprodukte vir die winter gebring wat ek in die winkel gaan verkoop. Dis nie goedkoop nie, want wol is duur. Die mussies en serpe is ene winterwol. Die sakke is ge-“line” aan die binnekant. Die steke is presies en perfek. Ek was nogal heel trots toe ek my nuutste aankope aan die personeel wys.

“Nou wat is dit dié?” vra Asmoralda.

“Dis wol babaskoentjies!”

“Maar meneer, vandag se babas word met Nikes gebore!”

Ai, dit sukkel maar om alles reg te kry.

So sukkel ek ook om agter te kom watter kunstenaars by Potters sal werk. Soms is ek baie opgewonde oor iemand, maar die kaartjies verkoop nie. Daar is nie genoeg “Nike” nie.

Toe stel Lorraine nou die dag voor dat ek Potters se fans vra. Lorraine is ‘n Potters-fan en sy mis nie ‘n fees of ‘n kunstenaar in die Oos-kaap nie. Sy ken hulle almal en ek luister as sy ‘n voorstel maak.

So hier is die deal: sê vir ons wie jy Nike. Sit dit op Potter’s se Facebook . As iemand ‘n kunstenaar opgesit het wat jy wil sien, kliek en gaan stem saam. “Nike” die kunstenaar!

Dit sal my ‘n idee gee. Dis harde werk om almal hier te kry, want hulle het hulle eie programme. En sommige Nike Potters meer as ander.

So – druk daai Nike-knoppie en laat ons sien waarvan almal hou!

Ek Naaaaaike julle!

Comments 2 Responses to “Nike hulle!”
  1. Tina says:

    Nike one, Callie!!

Leave A Comment