Ian Wessels – Loslipping – Maandag, 2 April 2012

Tyd: 18:30 vir 20:00;
Kaartjies: R100 per persoon;

“Jou laggie is só aansteeklik, ek kan nie wag om 2uur by die radio uit te kom vir my daaglikse dosis nie! Jy kyk net anders na die lewe. Dankie, jy is regtig ‘n tonikum.”

Ian Wessels

Luisteraars na Loslip , Ian Wessels se geselsprogram op RSG, maak daagliks soortgelyke opmerkings. Hy lag die komplimente egter af. “Dis altyd lekker om te hoor, maar dis maar wie ek is. Mense het my nog altyd gefassineer. Al verskil ons almal, het ek nog nooit iemand ontmoet wat nie van lag hou nie.”

Loslippig , dra dieselfde titel as Ian se boek wat onlangs verskyn het, maar is geheel en al nuut. In sy eerste eenmanvertoning gee hy ‘n humoristiese, loslip-kykie in die spieël van menswees. Hy skerpskerts aan die hand van pick-up lines, wynproe, die Afrikaans wat ons praat en die musiek waarna ons luister oor hoe verskillend mense van die bodorp en die onderdorp die lewe benader. Hoewel “tipiese luisteraars” wel ter sprake kom, sal Loslippig die lagspiere van nie-luisteraars ook onbehoorlik prikkel! Dit bied egter ook heelwat stof tot nadenke – veral vir hulle wat so bekommerd is oor “wat sal die mense sê?” Dalk is dit juis die oorsaak van so baie onnodige stres?

Loslippig se humor sal beslis onthou word. Ian sing selfs ‘n stukkie opera wat hy op ‘n braai in die onderdorp gekomponeer het! Kom ontvlug vir 60 minute van die lewe se donker kant met Loslippig se lagterapie.

Loslippig word aangebied deur RSG en Rapport en ondersteun deur Slanghoek Kelder.

Teks: Ian Wessels
Regie: Margit Meyer-Rödenbeck

Hoekom is Loslippig geskep?

Die fliek The Bucket List met Jack Nicholson en Morgan Freeman het my nogal laat nadink. As ‘n mens hoor die datum waarop jy die emmer gaan skop, kom nou vinnig nader, onthou jy mos skielik ‘n klomp goed wat jy nog wóú gedoen het – maar vir jare niks áán gedoen het nie!

Dit het my geïnspireer om werk te maak van my eie lysie. Ek wou nog altyd ‘n gepubliseerde skrywer gewees het, en in 2010 kon ek hierdie droom verwesenlik. My eie humoristiese eenmanvertoning was volgende op my bucket list. Elke slag as ek aan die einde van iemand anders se vertoning by die lokaal uitstap, dink ek dit sou eintlik lekkerder gewees het op die verhoog as in die gehoor. Daar is net een manier om seker te maak… en Loslippig is die eindresultaat.

Waaroor gaan Loslippig?

Hoewel die verhoogstuk dieselfde titel het as die boek, is dit heeltemal nuwe materiaal. Ek vra vooraf die gehoor – wat natuurlik bestaan uit mense van die bodorp en die onderdorp – om die een ding wat hulle nog graag wil doen voor hulle die emmer skop, neer te skryf en in my emmer te sit. Dis opvallend hoe baie mense nog iets wil doen wat bloot ‘n kopskuif of ‘n wilsbesluit verg. Hierdie wense vorm die begin van die vertoning en voltooi weer die sirkel aan die einde.

Loslippig ondersoek lighartig hoe verskillend die mense van die bodorp en die onderdorp die lewe benader. En voor jy nou dink ek veralgemeen, onthou gerus dat ons almal maar soms ‘n bietjie zef is! Gelukkig skuil daar ook ‘n stukkie bodorp in elkeen… al is dit soms maar diep. Hierdie tong in die kies ondersoek word gedoen aan die hand van alledaagse dinge soos wynproe, hoe ‘n man ‘n doedie probeer betower, die Afrikaans wat ons praat en die musiek waarna ons luister. Om seker te maak Loslippig word darem as ‘n komedie onthou, sing ek ook ‘n stukkie opera… wat ek self in die onderdorp gekomponeer het!

Ek was darem slim genoeg om te weet ek weet niks van verhoogwerk nie. Daarom het ek een van die land se top komediante gevra om my regie te doen. Margit Meyer-Rödenbeck het natuurlik naam gemaak as Dowe Dolla , die slimste blondine op die planeet, maar is onder andere ook regisseur vir die gewilde Bye Ma, Jaypee . Sy het die gawe om jou te laat glo jy geniet dit as sy die sweep klap!

Kom ontvlug vir 60 minute van die lewe se donker kant met Loslippig se lagterapie. ‘n Hele paar mense het al laat weet dat die ispirasie vir hulle selfs meer was as die lag…

Comments
Leave A Comment