Gert Bekker – Donderdag 7 Julie 2011

Luisterliedjies!

Soms gebeur dit dat van die mooiste musiek in enige land en taal nooit kommersiële blootstelling kry nie. Óf die skrywer daarvan is onbekend aan die breë publiek, of dit verdwyn tussen die massas ander kommersiële vrystellings.

Gert Bekker

Gert Bekker se musiek is die juwele uit die skatkis van ligte rock en kabaret en is verfris met nuwe en toeganklike musiekale verwerkings.

Hy gebruik ‘n breë verwysingsraamwerk en taal is geen grens nie – Gert Bekker sing ewe gemaklik in Afrikaans, Frans en Flaams en Engels. Gert het die afgelope paar jaar veral in restaurante en klein teaters bekend geword vir sy veelsydige eenman vertonings. Hy werk op die verhoog saam met van Suid Afrika se top musiekante – Mauritz Lotz is sy musiekregisseur, Denny Lalouette op baskitaar, Bruce Wallace op dromme en Jaconel Vey op klawers.

Sy vertoning Herinneringe aan Koos du Plessis in die destydse Teaterhuisie in Sunnyside het hom een van die beste komplimente besorg. Karla, Koos se dogter, het na een van die vertonings kom kyk en agterna gesê: ‘Dis die mooiste wat ek iemand nog my pa se goed hoor sing het!’

Miere, Girl, ‘n ligte rock nommer met ‘n verslawende refrein, Vrou so na my Hart en vele meer gaan in sy show gehoor word.

Comments
Leave A Comment