- Nuusbrief van 8 April 2011 –
Dis nou al die derde song wat sy vir my stuur. Sy wil graag by Potters kom sing. Sy kan sing en sy kan liedjies skrywe en sy’s pragtig. Ek luister maar na die liedjies en wonder of dit sal werk. En toe kry ek nog een. Dis ‘n opgewekte liedjie. Ek skryf terug:

“Jou eerste paar liedjies het my net herinner dat ek moeg is van ‘bleeding hearts & broken dreams.’ ‘n Mens wil darem bietjie handeklap en skreeu ook. Ek soek mooi musiek, ja. Maar ek soek ook happy musiek. Ek like dit as die mense met smiles huistoe gaan.”

Die meeste musiek gaan oor liefde. As jy verlief is, is die wêreld net psychedelic mooi! Maar ‘n happy lovesong? Almal skryf oor die break-up en die hartseer en alleenwees.

Manuel Escorcio het die dag saam met my op die stoep gesit en gesels. Potters was vol mense wat kom brekfis het. Die vorige aand se show-smile nog op hulle gesigte.

Ek sit terug en dink hardop. “Jy sien Manuel – die meeste van ons wat hier sit, werk maar net om ‘n decent living te maak. Ons wil graag ons kinders na ‘n goeie skool stuur en ons wil kos en klere koop en ons wil vir ons familie ‘n goeie dak oor hulle kop gee. En dit doen ons dag en nag.

Maar so af en toe vat ons ‘n break. Dan wil ons lag en Wow! sê. Dit is waar ek en jy inkom, Manuel. Ons voorsien daai “break”. Net ‘n uur of twee op ‘n slag. As die mense met smiles huistoe gaan, het ons ons job gedoen.”

Manuel kyk die mense op die stoep deur. Hy’s tjoepstil. Hy weet wat ek bedoel.

Gelukkig kry jy die kunstenaars wat van nature HAPPY is. Hulle is gebore op ‘n plaas met die naam “Lekkerkry”. Hulle gee ons die break en die lag en die handeklap. Vannaand gaan ons lag-lag huistoe. Môreoggend skink ons ons koffie met ‘n smile by die brekfistafel.

So stuur maar jou liedjies, maar weet ek gaan eers vra “Is jy op Lekkerkry gebore?”

Zak is een van hulle. Hy’s een van die dae terug. En daar kom nog ‘n hele paar Lekkerkry-boorlinge. Hou ons program dop.

Callie

Comments
Leave A Comment