Jennifer Zamudio – Saturday February 11, 2012

Tyd: 6:30 vir 8:00;
Kaartjies: R65 pp;

Jennifer Zamudio was al bestempel as een van die “mees stylvolste” vroulike kunstenaars en ook “die vrou met die ontwerperstem”!

Jennifer Zamudio

En wie kan ook haar “pers hare” in die vroeë jaar 2000 vergeet? Of dit nou op die verhoog, op haar albums of selfs sommer net in haar alledaagse doen en late is … Jennifer Zamudio se energie is aanvoelbaar én aansteeklik.

Ja, waar dié gewilde Afrikaanse donkerkop sangeres met die Spaanse van (foneties: ZA-MOE-DIE-HOU), haarself bevind, is ‘n gróót partytjie gewoonlik kort op haar hakke. Met haar veelsydige alt stem en natuurlike verhoogspersoonlikheid, kry Jennifer ‘n gehoor vinnig op hulle voete. Jennifer is al die afgelope 11 jaar ‘n bekende in die musiekbedryf en is veral bekend vir haar cd’s Hart se loper, Hoor Hoor en nou Die lewe is ‘n liedjie. Ter viering van haar 10jaar in die Afrikaanse musiekbedryf in 2010, het sy ‘n dubbel album getiteld “’’n Dekade van Musiek” met 40 van haar gunsteling liedjies op, uitgereik.
Jennifer het gehore veral van haar laat kennis neem met haar cd, Hoor Hoor, toe sy mens laat hoendervel uitslaan het met háár weergawe van Gé Korsten se treffer Liefling. Voorwaar ‘n eerste vir ‘n vroulike kunstenaar en sy staan beslis nie ‘n tree terug vir haar manlike eweknieë nie.

Van Jennifer se bekendste hoogtepunte sluit in:
Jennifer neem alreeds ‘n geruime tyd Eurovision liedjies op, in 2008 werp dit vrugte af en sy kry internasionale erkenning en word gevra deur Noorweë om hulle wenlied en inskrywing vir Eurovision 2008 in Afrikaans te vertaal, en maak sodoende geskiedenis as Suid-Afrikaanse kunstenaar. Die lied is amptelik aan Noorweë en die oorspronklike sanger oorhandig tydens Eurovision 2008. Noorweë, wat een van die gunstelinge was, het sukses behaal deur 5de te eindig uit 24 Europese lande. Dit was voorwaar vir haar ‘n groot eer en ‘n eerste vir ‘n SA kunstenaar. As gevolg hiervan word sy ook genomineer vir ‘n EURO STAR AWARD 2009 in die kategorie – “Female singers – Afrikaans cover of an actual Eurovision entry”. Jennifer se Afrikaanse weergawe van die lied, Ek wag op jou, was ook op haar cd, Hier’s my hart ingesluit.

Die gewilde televisie program KWELA op Kyknet het as gevolg hiervan ‘n hele insetsel oor Jennifer uitgesaai. Sy word ook vir die vierde keer gevra om as gas-aanbieder vir FIESTA op Kyknet op te tree en was ook onder andere te siene op DKNT, PASELLA, ONTBYTSAKE en JUKEBOX. Die kersie op die koek in die jaar was toe sy genooi was om tydens die Innibos Nasionale Kunstefees se Afskopkonsert op te tree saam met Die Cambells, Fredi Nest, Broers, Theuns Jordaan, Bok van Blerk en Mango Groove. Die skare van 13 000 mense het behoorlik gesorg dat dit een van Jennifer se vele hoogtepunte was. Die jaar eindig op nog ‘n hoë noot deurdat Jennifer genomineer is vir ‘n “Rapport Vonk Afrikaanse Musiektoekenning 2009” in die kategorie, “Beste Vroulike Solo Kunstenaar van die Jaar”.

Jennifer het in 2010 haar 10jaar in die Suid Afrikaanse Musiekbedryf gevier. Ter viering hiervan is daar ‘n 10 jaar dubbel kompilasie cd uitgereik, met 40 van Jennifer se gunsteling liedjies – Jennifer Zamudio – ‘n Dekade van Musiek. Die nuwe jaar, 2011 skop sy af deur weer trots ‘n onafhanklike kunstenaar te wees en sy stig haar eie etiket, Zamudio Musiek. In Julie 2011 reik sy haar eerste nuwe cd in drie jaar uit onder die Zamudio Musiek vaandel. Die cd getiteld “Die lewe is ‘n liedjie” is dan ook Jennifer se agste cd as professionele kunstenaar. Die cd het vining opslae gemaak en beklee reeds posisies op verskeie plaaslike radio stasies se trefferparades. Die gewilde SABC2 program, PASELLA, het ook met die nuwe cd ‘n insetsel oor Jennifer opgeneem. Sy het ook onlangs vir die vyfde keer as gas-aanbieder vir Kyknet se program FIESTA opgetree . Haar Eurovision bande het haar weereens beloon deurdat haar eie komposisie, “Ek sal berge klim vir jou” ingeskryf is as Suid Afrika se verteenwoordiger by die Global Song Contest. Daar neem 150 lande deel aan die gesogte internasionale kompetisie.
Jennifer het haarself al goed in die vermaaklikheidsbedryf gevestig as Sangeres, Liedjieskrywer, Compére (MC) en Televisie-Veldaanbieder. Dit is dus duidelik waarom Jennifer Zamudio as een van ons land se voorste Afrikaanse vermaaklikheids sterre bestempel word.

Comments
Leave A Comment