Jacques de Coning – Friday January 27, 2012


Met 100 000 albumverkope op sy kerfstok is Jacques de Coning as goueplaatkunstenaar alombemind en -bekend.

Jacques De Coning

Sy debuutalbum, Kaniklani is herverpak as Girl Van Die Klein-Karoo met treffers soos Kom Dans Met My, Boerereggae en Jannie Mag Nie Koor Sing Nie. Dis een van die belangrikste Afrikaanse albums wat in 2001-2003 uitgereik is. Met slegs oorspronklike komposisies uit sy pen, het Jacques ‘n spektrum genres – van rock en pop tot boeremusiek en reggae – ontgin en ‘n reuse-bydrae tot die skatkis van nuwerwetse Afrikaanse musiek gemaak.

Met sy album, Afrikaans my trots, het Jacques die jeug aangepor om spontaan op die maat van FAK-liedjies te jol en trots op ons taal te wees! Die album het binne weke goue status bereik – die vinnigste nóg wat ‘n kunstenaar van Select-Musiek in ‘n jaar dié eer kon verwerf. Die album bereik derde posisie op die SA Top 20 met net Internasionale name soos Ronan Keating en Shakira bo hom. Hy het hom stewig gevestig as een van Suid-Afrika se knapste en veelsydigste liedjieskrywers met sy oorspronklike nuutskeppings. Sy vertonings – met net ghitaar en stem – is vol oemf, geesdrif en ritmiese vokaliteit.

Jacques se vierde album TROTS is ‘n gebalanseerde vermenging tussen heerlike saamsingliedjies en oorspronklike werke. Hierdie album dien as ‘n basiese samevatting van die repertoire wat Jacques bekend gemaak het.

Met Veels Geluk gee Jacques sy bewonderaars ‘n feesgerigte album met onder meer drie keurspele – waarin hy gewilde Engelse treffers in ‘n aanvullende Afrikaanse eiesoortigheid uit sy pen verweef. In die snitte Die grootvoëlkeurspel, die Itsy bitsy-keurspel en die Million drums-keurspel verras hy telkens met oorspronklike musikale brûe tussen die beproefde gunsteling goed.

Hy het nog altyd op elkeen van sy vorige albums grense in musiek verskuif en deurentyd sy eiesoortige stempel daarop afgedruk. Hy sit ook murg in sokkie musiek: voet-jeuk lekker klanke met betekenisvolle lirieke.

Jacques De Coning - Afrikaans my trots

‘n Konsep-hulde album “The Shadows & Cliff Richard show” sien die lig as Jacques se sesde album waarby hy betrokke is. Jacques de Coning se sewende album, Sê dit Stadig, het vlugtig die rak gesien tot Jacques besluit het om dit te onttrek. Die album het volgens hom nie aan sy uitermatige hoë standaarde voldoen nie. In sy woorde: “Ek het net te gejaagd gevoel. Ek moet aan die einde van die dag tevrede wees en geloof hê in ‘n produk wat ek met oortuiging verkoop.”

Jacques het nog altyd daarin geglo om opkomende kunstenaars te help. Die groep Mattheus toer saam met hom sover kliënte se begrotings dit toelaat. Alhoewel hierdie kombinasie, wat bestaan uit kinders en kleinkinders van boeremusiek legende Neels Mattheus, nuut op die mark is, sal jy gou agterkom dat hulle uit gesoute musikante bestaan en dat hulle oorspronklike Afrikaanse rock/pop dansmusiek enig in sy soort en van baie hoë gehalte is. Hulle het reeds as verskeie kombinasies op feitlik elke album van Jacques de Coning gespeel.

Jacques slaag daarin om gewilde makietie musiek, verfrissende verwerkings en wyd treffende lirieke en uiteenlopende musikale genres in trefferalbums te verweef.

Moenie sy show misloop nie!

Comments
Leave A Comment