Fredi Nest & Jomari – Sondag, 4 Maart 2012

Tyd: 11:30 vir 13:00;
Kaartjies: R100 per persoon;

Fredi se vertonings is 100% oorspronklike werk.

Grootste Treffers in 2011. ‘n Dubbel cd met drie nuutskeppinge en die res van die veertig treffers van die afgelope ses jaar!

Fredi Nest is gebore in Johannesurg op die 25 ste Maart as die oudste van vyf kinders. Hy bring sy kinderjare gedeeltelik in Johannesburg en Durban deur. Soos met gebore musikante sing en bespeel hy die kitaar al van kleins af. Hoewel hy eers in sy dertigerjare besluit het om musiek sy loopbaan te maak, het hy maar deur die jare heen baie liedjies gekomponeer waarvan hyself en ander kunstenaars heelwat opgeneem het. Tot op datum het hy ver oor 250 geregistreerde komposisies in Afrikaans en Engels. Vandag word Fredi Nest beskou as een van die land se beste skrywers van ligte musiek. Hy en ‘n hele handvol van ons voorste kunstenaars spog met verskeie treffers uit sy pen. Hy is baie trots daarop dat hy sy vertonings 100% oorspronklike werk is. By uitsondering sal hy op aanvraag iets van ‘n ander kunstenaar sing.

Fredi se musiekloopbaan het die afgelope paar jaar ongelooflik gegroei nadat hy by Select-Musiek aangesluit het. Sy laaste drie albums het almal goue status behaal. In 2007 het hy die SAMA verower in die afdeling ‘Beste Afrikaanse country-album’ en in 2008 en 2009 is hy weer benoem vir dieselfde kategorie. Hy het al verskeie musiektoekennings ontvang. Die nuutste was sopas in Februarie 2011 toe hy die ‘SA Country-toekenning – Beste skrywer’ vir ‘Hold on Woman’ ontvang het.

Fredi se elfde cd is verlede jaar vrygestel.

Hier is ‘n paar interessanthede:

Fredi Nest

Fredi woon in die Cullinan-distrik saam met sy gesin op ‘n stukkie grond met ‘n watertjie en stukkie berg waar hy besig is om woon, werk en speelplek met sy eie hande te bou. Hier bou hy vir homself ‘n ateljee waar nog baie treffers gebore gaan word. Hy is baie lief vir die natuur en diere en het ‘n steekbaardbrakkie en ‘n paar gekruisde hondjies wat sy hart se punt is. Onder sy vele belangstellings is ‘n passie vir ou goed, daarom dat hy graag ou motors en enjins nuwe lewe gee. Hy besit nege ou trekkers en agt veteraanmotors wat tussen 1936 en 1967 dateer waaraan hy restoureer wanneer hy tyd het. Dan vang hy baie graag vis wanneer hy nog tyd oor het.

In die nagte wanneer normale mense slaap, is sy persoonlike kreatiewe tyd. Dis dan dat die muse hom besoek met ‘n nuwe melodie en gewoonlik sommer die lirieke ook. In Fredi se loopbaan wat oor 17 jaar strek het hy homself herhaaldelik as ‘n besonder talentvolle kunstenaar bewys. Sy sang- en skryftalent het ook tot sy reg gekom met ‘n paar liedjies wat in die internasionale mark gaan draai het. ‘Just a little love’ (gesing deur Natasja Lee, ‘n plaaslike meisie) is in ‘n internasionale fliek gebruik as temalied. Sy treffer ‘Sê My’ het Duitse woorde gekry met die titel ‘Küss mich’. Van Fredi se liedjies is al op meer as 60 saamgestelde cds gebruik, waarvan ‘n hele paar spesiaal geskryf is vir bv die Rugby, Slaaptyd en Gospell-reekse.

Fredi is voortdurend besig om te skryf en skep en hy doen graag gewone dinge om na aan die aarde en sy aanhangers te bly. Tans is hy besig met die opname van sy twaalfde cd.

Jomari

Vir Jomari is die lewe mooi, want “niks is meer opwindend as om jou droom ten volle uit te leef nie!”

Jomari Greyling

Die fyn, energieke Jomari Greyling sê sy vergryp haar soms aan die liefde vir die lewe. Daarom heet haar splinternuwe album juis My droom te leef.

“Hierdie album is absoluut my babatjie en dit is my sleutel om deure te gaan oopmaak. Ek is baie trots daarop.”  Die album is deur Werner Beukes, een van ons land se top vervaardigers, behartig – met splinternuwe liedjies uit die pen van: Werner Beukes, Vaughan Gardiner, Anton Botha, Etienne Steyn, Johan Vorster, Jomari en Pete en Charlie van Londen: dieselfde skrywers wat vir Mel C van Spice Girls en vir die Parlatones geskryf het. Danksy lewende orkestrasie en byderwetse verwerkings spog die album met ‘n energiek-jeugdige tienerrockklank..
“Ek en my maats het as kinders altyd konsert-konsert gespeel, ons ‘opgedress’ en dan voor die ouers gaan staan en sing. As klein dogtertjie kon ek nooit vinnig aan die slaap raak nie en het my ouers besluit om my op die sitkamerbank te gaan neerlê met oorfone op die ore en musiek aangesit. (Audrey Landers se Manuel Goodbye) is gespeel… en dit was nie lank nie… dan is Jomari vas aan die slaap!) Later het ek aan die etenstafel begin maak of ek klavier speel en daar het my ma-hulle besluit ek moet klavierles neem. Sing het ek gesing: heeldag en aldag, al kon ‘n mens nie uitmaak wat ek sê nie… Dit het my geslyp my tot wie ek vandag is.”

Jomari het ‘n paar jaar by ‘n in- en uitvoermaatskappy gewerk wat met volstruisvere en –eiers sake gedoen het. Toe het sy die musiekbedryf agter die skerms betree en waardevolle ondervinding in verskeie aspekte van die bedryf opgedoen. (bron: www.jomari.co.za )

Comments
Leave A Comment