Franz Geldenhuys – Saterdag, 10 Maart 2012


Die Wêreld is oud!

Koos du Plessis is ‘n ou siel. Hierdie is sy storie.

Franz

Franz Geldenhuys vertel die storie saam met ‘n paar gaskunstenaars. Franz ken Koos se dogter Karla persoonlik. Hulle het lank gesels. Kom luister na Koos se storie. Dis ‘n diep storie van ‘n ou siel!

Skielik is jy vry: Die lewe en musiek van Koos du Plessis

deur Andries Bezuidenhout

Twintig jaar gelede, in 1984, was die land aan die brand. In September daardie jaar is ’n aantal noodtoestande afgekondig. Dit was “Swart September eighty four”, soos Koos Kombuis later sou sing, “die seisoen wat brand en aanhou brand, ’n lente bleek en dor …”

Dit voel nou soos ’n leeftyd gelede. Ook in daardie jaar, in die vroeë oggendure van 15 Januarie 1984, het Koos du Plessis op die ou Krugersdorppad in Knoppieslaagte verongeluk. Hy het met sy Volkswagen Beetle van ’n laagwaterbrug af gery. Sy lyk is eers later die oggend gevind.

Gert Vlok Nel het later die tragiese gebeure “gerekonstrueer”. In sy song “Waarom ek roep na jou vanaand” onthou hy hoe sy ma vir hom vertel het van die nuus “die aand op die laataandnuus gelees deur Blomerus Niewoudt gewees”. Oor hoe Koos “na middernag wou ry na Nick-hulle toe om iets stupids te gaan sê al het hulle for god’s sake al gelê. ” Hy verwys hier na Nick Taylor, Koos se goeie vriend wat sy musiek opgeneem en uitgegee het. Verder sing Gert heel grafies dat dit “die god van lewe en dood behaag” het om vir Koos “op die no doubt bestemde uur te laat ry op ’n laagwaterbrug”. Toe het “die Volksie in slow motion begin gly en geploeg deur die tamboekiegras … tot teen die boom het jy half gedroom en half gely en halwe dinge bely …”:
jou oë het gesien êrens dit & êrens dat & Herman wat
inkom in die baai op die dek van die Carian all sails & hy hail jou hy praai hy
lag & waai & roep ek het jou kom oplaai Koos all around the
world vanaf malta na bombaai
& toe het jy op die woord bombaai
omgedraai & iets vir ons gesê wat ons nie kon hoor nie weens die aanwesigheid
van wind maar dit was iets soos wind vind bind kind & toe het jy
die môre sien breek koud & woordeloos Koos jy was bly en
skielik was jy
vry.

Koos du Plessis (10 Mei 1945 - 15 Januarie 1984 )

In sy afskeidslied aan Herman sing Koos du Plessis oor die plekke wat hy nog wou besoek, waaroor hy wou gesels. Gert Vlok Nel noem Malta en Bombaai. Dan is daar Beiroet, Java, Leningrad, Khartoem en Zanzibar. Koos het baie gesing oor reise en oor swerwers. Oor Herman het hy gesing:
toe laat jy vir my alleen agterbly
met ’n droom en ’n gebreekte kitaar.

Twintig jaar later het baie van die plekke wat hy nog wou besoek, al ander name. Soos Koos ’n afskeidslied vir Herman geskryf het, is “Waarom ek roep na jou vanaand” weer Gert Vlok Nel se afskeidslied aan Koos du Plessis. En heel gepas kom speel Herman ’n laaste rol as hy Koos met sy skip kom haal.
Gert Vlok Nel onthou ook die tyd toe Koos nog sy “swartste troebadoer” was, toe sy eie hart nog “kouewateromoskoon” was, te skoon “vir die Here & Tintin om in te woon”. Op ’n manier was Koos se musiek baie “skoon” vir die smerige dekades waartydens sy musiek geskryf is. Verder sing Gert:
jou liedjies was so hartverskeurend skoon
te skoon te skoon om in te woon
hulle hoort nie in Afrika of hier êrens nie
jou liedjies belong eintlik nêrens nie.

Wie was Koos du Plessis en wat beteken sy musiek vir ons twintig jaar na sy dood? Was sy musiek werklik “te skoon” om “in te woon”? En waar hoort sy musiek vandag? Ek het weer na sy plate gaan luister en ’n paar vrae aan mense gevra in ’n poging om van hierdie vrae te probeer beantwoord.

Volledige artikel: Skielik is jy vry: Die lewe en musiek van Koos du Plessis (deur Andries Bezuidenhout) . ..

Comments
Leave A Comment