Elizma Theron – Donderdag, 15 Desember 2011


Elizma Theron bied volwasse Afrikaanse dansmusiek

Gesond, fiks en lieflik gryp haar glimlagstem die ritme van musiek wat pols, klanke wat bekoor en lirieke wat met jou lyf én hart praat!

Op haar derde album vir Select-Musiek – Op pad na jou (wat volg op haar platinum-album Gee my meer en haar goue album Ek soek jou ) – bied Elizma vyftien pronksnitte, gestempel met lewenslus, soos reeds met die openingsnote van die gewilde titeltreffersnit beloof word.

Die album bevat balladejuwele én dansvloervreugdes. Dié trefferresep is die resultaat van gewilde wêreldmelodieë met markgerigte Afrikaanse aanpassings en agt oorspronklike Afrikaanse komposisies én ‘n radiorég Engelse treffer. Elizma het self ‘n aantal van die liedjes – musiek en liriek – geskryf, met bydraes en samewerkingsessies deur Don Kelly, Marc Brendon, Niel Schoombee, Johan Oberholzer en Sean Butler:  ‘n aantal vars kontemporêre popliedjies met opwindende, byderwetse countrywortels. Dit is wydtreffende ritmemusiek wat onmiddellik tref.

Elizma se vokale vaardigheid is die stempel op die trefferduet Die wêreld is ons s’n, die kolskoot opvolgsnit van Kom ons vat ‘n kans – met die poprockridder Nicholis Louw (wat aan hulle ‘n SAMA-toekenning besorg het.

Tussen die boeiende, luistergerigte werk hierop is die uitbundig-meevoerende geestelike snit Kyk op na die son ; ‘n gewisse radiotreffer!

Sy bekoor met die ritmeballades Onthou sal ek onthou, Ek wil huil as dit reën, Tot die woorde of die wyn opraak, Hou jou trein op die spoor, Ek kan nie wag nie, Maak my hart jou huis en die smeulende romantiese juwele Toe stap jy in en Agter die gordyn.

In Engels nooi die inkykende popsnit Dear diary die luisteraar om aandagtig te luister.

En dans kán daar gedans word! Voorop is die sweettappende verleiliedjies My beste fout was jy, Kom ons gooi dit – én, veral Kry jou ry – nee wag ‘n rukkie!

Moenie wag nie! Kom luister na Elizma by Potters Palce op 15 Desember. Elizma Theron bied volwasse Afrikaanse dansmusiek: goeie pop met spatsels country en rock, geesdriftig en vars vertolk deur ‘n sangeres wat met haar hart sing!

BLITSFEITE

Verjaardag: 6 Junie (1983)
Geboortedorp: Bethlehem
Grootgeword: Tussen die kameeldoringbome en sandduine van die Kalahari op die dorpie Kuruman.
Ander belangstellings:
Het hokkie op skool gespeel. Het gedans en modelwerk gedoen.

Comments
Leave A Comment