Andriette – Friday October 14, 2011

Andriëtte – VAT MY HOëR

Andriette

Andriëtte bereik nuwe hoogtes met haar nuutste album Vat My Hoër! Andriëtte, naaswenner van Idols in 2007, se derde album Vat My Hoër is kraakvars op die rak en neem haar musikaliteit na hoër hoogtes en nuwe horisonne. Vat My Hoër is ‘n volwasse kontemporêre album met treffende, oorspronklike liedjies wat Andriëtte se kenmerkende fluweel-stem, styl en musikaliteit nommerpas komplementeer. Die liedjies het sterk, betekenisvolle lirieke en is geskryf deur toonaangewende liedjieskrywers. En haar vertolkings is soos gewoonlik uitmuntend. “Ek het met die derde album eers eintlik besef watter tipe musiek ek regtig wil sing en ek dink ek het nou my nis gevind” sê die skugter sangeres van Brackenfell.

Johan Oberholzer, wat vier liedjies op haar vorige album Dink Aan My geskryf het, het weer ‘n besonderse bydrae op die album as liedjieskrywer gelewer. Rudi Claasse, Werner Beukes en Waldo Greeff het ook van die nuwe liedjies geskryf. Andriëtte ontluik ook self vir die eerste keer in ‘n talentvolle liedjieskrywer – sy het die lirieke van die liedjie Sonder Jou geskryf en Werner het die musiek geskryf. Sy het die nuwe uitdaging om saam met ‘n knap vervaardiger soos Werner te werk, baie geniet, vertel sy. Die nuwe album se liedjies handel hoofsaaklik oor liefde in al sy fasette – maar dit is beslis ‘n album vir oud en jonk. Daar is twaalf splinternuwe Afrikaanse liedjies op Vat My Hoër en wanneer jy na die verskeidenheid liedjies luister, is dit moeilik om die een bo die ander uit te sonder, want elkeen is spesiaal.

Die album spog nie net met treffende materiaal nie, maar die room van ons kunstenaars ondersteun Andriëtte op haar jongste album. Van die musikante wat ‘n bydrae gelewer het sluit in Floors Oosthuizen (kitaar), Murray Lubbe (kitaar) Werner Beukes (klavier), Byron Kuntz, Vinnie Henrico (dromme). Marius Brouwer het die produksie behartig.

Andriëtte vertel dat sy in die jaar nadat sy aan Idols deelgeneem het, geleer het om op haar eie voete te staan en meer onfahanklik te wees. “Ek was toe 21 jaar en het na Idols van die Kaap Johannesburg toe verhuis en het ongelooflik baie in daardie jaar geleer. Ek het ook na Idols geleer om meer uit my dop te kruip en om makliker met mense op straat te kommunikeer, ” se die talentvolle 24-jarige sangeres. Maar die gebore Kapenaar het te veel Kaaptoe verlang en toe na ‘n jaar weer terug na die Moederstad verhuis. “Ek het besluit dat ek nog steeds van die Kaap af kan werk en nog steeds oral oor die land kan optree.” Sy hou daarvan om op die platteland sowel as in die stad op te tree. “Die plattelanders is baie gasvry en kan jou net nie genoeg boerekos gee nie, maar die mense in die stad is ook baie gasvry en kan net so lekker saam kuier.”

Sy is baie lief vir kinders en is ambassadeur van die Durbanville kinderhuis waar sy gereeld haar gewig ingooi. Andriëtte het op skool gereeld aan revues deelgeneem en vertel dat sy graag in die toekoms in musiekspele sal wil speel. Sy sal ook graag eendag in Nederland en België wil optree.

Die gewilde sangeres het reeds drie keer aan Skouspel deelgeneem en vertel dat dit vir haar ‘n ongelooflike ervaring en hoogtepunt in haar loopbaan was. “Dit was so lekker om van ons kunstenaars soos Laurika Rauch en Juanita du Plessis persoonlik te ontmoet en saam met hulle die verhoog te deel.”

Hoewel sy hoofsaaklik kontemporêre musiek sing, luister sy graag na rock en spesifiek na die musiek van Def Leppard. Op die plaaslike front geniet sy veral die musiek van Steve Hofmeyr en Laurika Rauch. Vat My Hoër word vanjaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn bekendgestel en Andriëtte sal ook by verskeie musiekverhoë soos die Huisgenoot-verhoog en die Kuiertuin optree. Andriëtte vertel van elke liedjie op haar nuwe album:

  1. Vat my Hoër ( J.Oberholzer) – Hierdie liedjie is my gunsteling op die album.Ook die eerste liedjie wat ek gehad het vir opname. Dis baie motiverend en beskryf die magic van liefde.
  2. Warrelwind (J.Oberholzer) – Op hierdie een gaan die mense lekker dans!Lekker vrolik.
  3. Swart sambrele ( R.Claasse) – Dis vir my een van die mooiste liedjies wat ek al ooit gehoor het.Die woorde is treffend en baie diep.
  4. As jy my wil hê ( J.Oberholzer) – Hierdie liedjie handel oor hoe jy elke dag vir iemand moet sê en hom/haar wys hoe lief jy daardie persoon het.Nog ‘n lekker opgewekte een.
  5. Jy’s myne ( J .Oberholzer) – Dis vir my n baie oulike liedjie omdat dit gaan oor die man wat nie baie het nie en net ‘n gewone ou is,maar vir die meisie is dit perfek want solank hy haar net lief het. Lekker dansnommertjie!
  6. Dinge ( R.Claasse) – Ek dink baie mense kan met die liedjie vereenselwig.Dit handel oor hoe baie dinge mens soms vat en deurmaak voor jy besluit iemand is nie vir jou nie. ‘n Langarm enetjie!
  7. Is dit jy ( W.Greeff) – Hierdie liedjie was in die derde plek in 2010 vir die Huisgenoot liedjieskryfkompetisie. Ek het die voorreg gehad om dit te sing en dadelik besluit dit hoort op my volgende album.
  8. Asemloos ( J.Oberholzer) – Baie mooi liedjie!Baie lekker gevoel.Daardie gevoel van dat jy weet jy gaan saam oud word en die hele liedjie beskryf net die gevoel.
  9. Sy soene ( J.Oberholzer) – Somer,winter,lente of herfs.Die seisoene kom en gaan en al wat sy soek is sy soene.Dit hou haar koel in die somer en warm in die winter.
  10. Sonder jou (A.Norman en W.Beukes) – Hierdie is my trots op die album omdat ek deel was van die skryfproses) Baie lekker liedjie.Nog ‘n lekker een om die voete los te maak.
  11. Elke oomblik vir jou (W.Beukes) – Pragtige ballade!Met baie mooi woorde en weer eens oor hoe jy net alles vir daardie persoon wil gee om hom te wys hy is jou alles.
  12. A little peace – My enigste Engelse liedjie op die album Dis n voelgoed liedjie.As jy na die nommer luister voel jy net positief en lekker!

ANDRIëTTE HONOURED AT THE HUISGENOOT TEMPO AWARDS 2011!

Sony Music congratulates Andriëtte Norman on her Huisgenoot Tempo Awards which were awarded last night during a glittering occasion in Johannesburg.

Andriëtte’s third album “Vat My Hoër” won the Huisgenoot Tempo Award for the best contemporary album of the year. The Idols-finalist of 2007 had strong competitors like Steve Hofmeyr, Bok v Blerk & Romanz in the same category and was the youngest nominee in this category.

Andriëtte was totally overwhelmed and taken by surprise when her name was announced for the best contemporary album last night.

“I didn’t spare it a thought I would win the prize in a million years – not with big names like Steve Hofmeyr in the same category. I am honored and privileged.”

Sony Music is proud to have a talented artist like Andriëtte in their stable.

ANDRIëTTE VEREER BY HUISGENOOT TEMPO TOEKENNINGS 2011!

Sony Music wens vir Andriëtte Norman hartlik geluk met haar Huisgenoot Tempo Toekennings wat gisteraand tydens ‘n spoggeleentheid te Emperors Pallace aan hulle oorhandig is.

Andriëtte se album “Vat My Hoër” is bekroon met ‘n Huisgenoot Tempo Toekenning vir die beste kontemporêre album van die jaar. Dit is Andriëtte, voormalige Idols-finalis in 2007, se derde album en benewens dat sy die jongste benoemde in die kategorie was, moes sy ook teen groot name soos Steve Hofmeyr, Bok van Blerk & Romanz meeding.

Andriëtte vertel dat sy heeltemal oorstelp en uit die veld geslaan was toe haar naam gisteraand as wenner vir die beste kontemporêre album van die jaar uitgeroep is.

“Ek het nie gedink dat ek dit in ‘n miljoen jaar sal wen nie – veral nie met sterk teenstanders soos Steve Hofmeyr in dieselfde kategorie nie. Ek voel geërd en bevoorreg.”

Sony Music is trots om sulke talentvolle kunstenaars in hul stal te hê.

Comments
Leave A Comment