My pa dink hy’s Elvis – Vrydag 4 November 2011

Ben Kruger en Viljé Maritz

met Ben Kruger en Viljé Maritz

Regisseur: Albert Maritz
Dramaturg: Reinet en Jan-Jan Nagtegaal
Aangebied deur Genugtig! Produksiehuis

Pa Hennie is ‘n Elvis nabootser en sleep sy teësinnige seun saam op sy Elvistoer deur die Karoo om geld in te samel vir Ma se “boobjob”. Teen die agtergrond van al die ou bekende Elvisliedjies ontknoop die spanning en drama wat die gesin se wanfunksionering onderlê. Pa en seun konfronteer hul kwessies met mekaar en met die wêreld – soms agter die skerms en soms voor die gehoor.
Ben se nostalgiese Elvisuitbeelding laat die voete jeuk terwyl konfrontasies tussen pa en seun pendel tussen komies en hartroerend. Ben verskyn op die kassie in 7de Laan as neef Gert en Vilje word onthou as Gys in Binnelanders.

“Die stuk handel oor soveel meer as ’n man wat die platteland met sy Elvis-nabootsing platry. In my lewe het daar al ’n hele paar aspirant-Elvisse op die verhoog my professionele pad gekruis, maar Ben Kruger s’n ruil ek vir nie één van hulle nie. Dis juis omdat Ben die broosheid van sy karakter – vokaal, maar veral ook as mens met ’n verlede wat in sekere opsigte onherroeplik tragies is – met ’n oortuigende innerlike dimensie aanvat. Voorts is dit ook ’n stuk oor een van die mees verwikkelde tipe verhoudings wat bestaan: dié tussen pa en seun. Die seun is Hennie van Zyl en hy word met ’n sielsmeevoerende egtheid gespeel deur Viljé Maritz. My pa dink hy’s Elvis het baie meer emosionele opstoppers as wat enigiemand sou kon verwag.” Paul Boekkooi – Innibosfees

Comments
Leave A Comment