Ek het ‘n boer sien dans ..

- Uit die nuusbrief van 12 Julie 2011 -

Vir al amper 100 jaar kan jy by Mastertons in Port Elizabeth se ou-wêreldse koffiemark instap en van hulle uitstekende koffie koop. Met die instap groet  die aroma jou vriendelik. Jy snuuuuif. Jou gemoed lig sommer. Daar’s ‘n belofte in die reuk.

So is dit mos ook met ‘n glasie rooiwyn. Jy swaai die glasie, jy  snuuuuif en die mmmm…Jy ruik ene belofte.

Of ‘n meisie se parfuum…..soos ek sê – die ene belofte!

Maar van al die reuke is daar die een reuk wat jou siel roer. Die grootse belofte van alles. Die reuk van reën wat kom. As jy op die plaas staan na die droogte en jy kry die reuk van die nat stof nog voor die eerste druppel geval het, dan kan jy maar kyk – die diere staan ook neus in die lug .. en snuuuuif. Dit lyk of die insekte begin skarrel. Almal weet. Die GROOT belofte……

Die reën het uiteindelik geval hier in die Oos-kaap. Baie daarvan. Dankie tog.

En so gaan die eerste stemme in die stad al klaar op….hef op die waterbeperkings sodat ons ons motors met die tuinslang kan was en ons sproeiers op automaties kan sit…..

My vriend – het jy al op ‘n plaas gestaan in die droogte en gekyk na die stof-droë landerye wat ‘n sandpit geword het vir die meerkatte? Het jy al by ‘n dier gestaan wat gevrek het van die dors? Of ‘n boer gesien dorp toe trek opsoek na odd-jobs?

Genadewater. Dis wat dit is. Dit maak nie saak waarin jy glo nie, jy wil dankie sê. As dit val, wil jy dans. En die diere dans en die insekte skarrel. Niemand weet dit beter as ‘n boer nie.

Lize Beekman het ‘n video van haar  liedjie “Ek het ‘n boer sien dans”. In die laaste tyd dink ek baie aan hierdie video. My oë word sommer reënerig. Kliek hier as jy wil kyk.

So hiers die deal – is jy ‘n boer ? SMS my jou naam, en jou plaas se naam en sê watter show jy wil sien hier by Potters. Enige show oor die volgende maand of so. Daar is baie briljante shows wat kom. As die show klaar vol is, maak ons ‘n ander plan. As jy oornagplek soek in Jeffreys sal ek probeer help. As daar ‘n tafel oop is, gee ek vir jou een. Vir jou en jou gesin. Hier’s my nommer – 082 324 3888. En die een met die mooiste plaasnaam kry sommer ‘n bottel Moerse Sous ook. Sê sommer ook hoeveel dit by jou gereën het.

Kom ons dans. En dan gaan was ons die karre met die hosepipe!

Comments
Leave A Comment