Foot-up-Folk – Woensdag 18 April, 2012
Tyd:
6:30 vir 8:00;
Kaartjies:
R85 per persoon;
Foot-up-Folk. Deur Bacchus Nel en Vana.
Ons is twee acts wat saam toer. Bacchus Nel is baie gevestig in die Afrikaanse musiekwerld, gereeld op Tv en MK en het laas jaar saam met Jan Blohm getoer en met verskeie kunstenare soos Riku Latti, Albert Frost, Gert Vlok Nel en meer gewerk. Bacchus het twee albums uit, die laaste een is in Julie laasjaar uitgeryk en werk tans aan twee nuwes.
Vana het al verskeie groepe gehad (Greenacre, ens) en lei Vana and the Oh So Serious . Hy het al ‘n paar albums uit, die nuutste een is nou einde Maart bekendgestel.
Die instrumente wat in die twee bands speel is, kontrabas, kitare en trekklavier.
Altwee acts het ook al by meeste van die land se groot festivals gespeel (Koppi, STRAB, KKnK, Aardklop, FestiVal ens ens…) Tot dusver tree ons ook op by Splashy Fen en STRAB hierdie jaar.
Meer oor Bacchus Nel …
Op ‘n katastrofiese dag het ‘n klein Volksie voor ‘n vragmotor ingery en ‘n einde gemaak aan Stephen Nel, die deelttydse versekeringsverkoopsman van Standerton. Uit die wrak van verwronge metaal het daar egter iets merkwaardigs gebeur: die geboorte van digter, sanger en liedjieskrywer Bacchus Nel.
Die gebreekte bene het weer heel geword, maar Bacchus moes hoor dat hy nooit weer sal sien nie. Hy was 21 en onherroeplik blind. Om ‘n uitlaatklep vir sy rou emosies te kry, het hy begin kitaar speel en helder beelde opgetower met sy musiek en woorde. Hy het ‘n put van kreatiwiteit en talent gevind wat verborge was in Stephen Nel. Hierdie talent is uiteindelik raakgesien deur Piet Botha en Lanie van der Walt, wat hom gehelp het om sy populêre debuut CD te voltooi: “In die Arms van die Nag”.
Bacchus erken dat hy op skool ‘n bietjie van ‘n rebel en droogmaker was. In daai tyd, sê hy, was dit nie “cool” om Afrikaans te wees nie en Afrikaanse musiek het ook nie juis aftrek gekry nie. “Ons was donker kinders.”
Stephen was ‘n Pixies-man. Het het na skool vir ‘n ruk op ‘n kibboets gewerk en ook sy oorlewingsvaardighede in Londen getoets (sonder sukses). En toe is hy terug Standerton toe. ‘n Man sonder ‘n idee wat hy met sy lewe wil doen.
Vandag is Bacchus Nel ‘n man met ‘n visie. Hy kan met oortuiging sê: “Ek wil niks anders doen nie. Ek wil musiek maak. Ek wil goeie liedjies skryf.” Die onderwerpe waaroor hy skryf, sê hy, is soos sy dagboek. “Die daaglikse bestaan. Verbode liefde. Verlore liefde. Die stad en die platteland. Plekke met ‘n interessante vibe.”
Hy sê sy liedjies lewe almal in sy kop, saam met ander wat nog half is, onvoltooid is. Hy put baie uit sy visuele geheue. “Ek skryf uit wat ek gesien het. Daar is lekker prentjies in my kop. En ek kan goed visualiseer as iemand vir my iets verduidelik.”
‘n Groot frustrasie van blind wees, is die afhanklikheid op ander mense om hom van plek tot plek te vat, sê hy. Maar hy laat duidelik weet dat hy gelukkig is. Hy vergeet soms dat hy blind is. “Dit is nie iets waaraan ek dink nie. En dan loop ek op ‘n dag dwa! teen ‘n kas vas, dan vloek ek. Maar ek vloek andersins ook.” Oor sy daaglikse metgesel sê hy: “Changa is ongelooflik cool. Hy slobber nie oor mense nie. Ek is bitter lief vir hom. En hy blaf ook nie rêrig nie.”
Bacchus se musieksmaak is desedae baie wyer. Hy luister graag na musiek wat hom raak: Johnny Cash, Kris Kristofferson, Bob Dylan, Leonard Cohen, Lou Reed. Afrikaanse kunstenaars wat hom inspireer, is mense soos Riku Lätti, Brixton Moord en Roof Orkes en Gert Vlok Nel.
Sy eie liedjies weerspieël dit: eerder bittersoet as soetsappig; subtiele humor in die pyn.
Hy is anders. Merkbaar anders. En hy erfaar die lewe uit ‘n unieke oogpunt wat hy deur sy musiek aan die publiek blootlê.