Andre Swiegers – Donderdag, 5 Januarie 2012
Callie skryf:
… Hier is ‘n skrywer, digter, sanger en sy show is klaar. André staan by die laaste twee klante en gesels. Hulle glase is half. Ek sê “Nou sit jy!” en ek maak vir ons ‘n bottel Potters Red oop. Dis toe wat ‘n laaang interessantte aand begin.
Diep gesprekke, ligte gesprekke, kwaad word vir ander mense en lekker lag…..dis half vier die oggend toe ons loop.
Geniet die foto’s van sy vorige show by Potters Place op ons Facebook page .
2011 was ‘n jaar van toer vir Swiegers – die land vol. Hy reken een van die hoogtepunte was – toe ‘n man ná ‘n onlangse optrede vir hom kom sê het dat hy die vertoning teen sy sin bygewoon het, maar baie bly was dat hy wel so gemaak het. André steur hom min aan die tipies-populêre liedjies van die dag – die wat kom en gaan. Hy glo musiek behoort nie volgens ‘n vasgestelde resep / formule te gebeur nie. Juis daarom is hy ingestel om musiek te maak met eie karakter en trefkrag.
André gaan ‘n paar van sy ou bekendes sing (soos Eva, Blou, Turn on the light ) asook van sy mees onlangse werke wat nog nie opgeneem is nie.
Wie is André?
Ons hoor gereeld op Algoa FM hoe die Port Elizabethse Coleske-broers “Take me where the sun is shining” sing, ‘n liedjie uit die pen van Andre Swiegers wat op 5 Januarie by Potter’s Place gaan optree. Die sanger/liedjieskrywer onthou hoe hy Sondagaande na die LM Hit Parade gelê en luister het en so die Beatles, Rolling Stones en Beach Boys ontdek het. Op 16 koop hy sy eerste kitaar vir R17,50 en begin geesdriftig akkoorde leer en liedjies skryf.
Sy finale jaar studies word in 1979 onderbreek om die hoofrol teenoor Sonja Heroldt in die film Sing vir die Harlekyn te vertolk – waar hy die bekende liedjieskrywer Anton Goosen leer ken. Hy voltooi wel sy BA graad maar besluit om sy stokperdjie (signwriting) as beroep te beoefen en verder te sing. Vir sy eerste “professionele” musiekoptrede by die Stasie Hotel in Brakpan toon hy ‘n totale profyt van R10! Hy is egter baie suksesvol in beide beroepe en na sy troue in 1985 trek hy Pretoria toe waar hy en sy twee seuns, Jean en Emile steeds bly.
Nadat ‘n vriendin voorgestel het dat hy meer op Afrikaanse liedjies moet fokus, skryf hy “Blou” wat deur Laurika Rauch opgeneem en bekendgemaak word – twaalf jaar later het André en Réana Nel dit as duet opgeneem. In 1994 neem hy Tablature op onder die naam Squire Blue (Casper de Vries was deel van die span wat help naam kies het) saam met Arnold Coleske en Harold Schenk. In hierdie tyd vra die Coleske broers André om te help met die skryf van lirieke vir hul nuwe album – ‘n paar jaar later tref onder andere “Take me where the sun is shining” Europa. Dit styg tot bo aan die trefferparades in verskeie lande. Gedurende die laat negentigs word die liedjie deur SAMRO aangewys as een van die twaalf grootste Suid-Afrikaanse treffers die afgelope veertig jaar.
Sy bekendste liedjies is Blou, Eva, Jammer om te hoor, Turn on the light, Take me where the sun is shining, Aphrodite, Die tyd sal leer, Twee feilbare mense, 1966 VW Beetle Blues, Hoe draai die wind dan nou, Jy doen dit vir my, Waar was ek heen, Dorsland, Die Sirkels van Tyd en Eiland.