Dronk Japanese……

- Uit die Nuusbrief van 15 Mei 2011 -

Ek stop by die padwerke op die N10 en saam met Bob Dylan kliphard in my ore herleef ek die hele Vietnam Generation. En toe van êrens af styg daar ‘n ander stem bo die skril bekfluitjie van Bob uit. Die stem is vol, met baie siel. Ek sit vir Bob af en luister wat aangaan. Dis die motor voor my in die tou waar dit vandaan kom. Almal in die motor sit tjoepstil en luister. Hulle vensters is oop en ek maak myne groter oop. En toe sit ek ook sommer en luister…..

Na ‘n rukkie stap ek nader en vra maar aan die bestuurder watter musiek nou daar speel. “Rebecca, sir”. O ja, toe onthou ek. ‘n Stem met siel. Musiek met siel.

Soos die kilometers weer onder my motor deurgly, dink ek toe aan die koerantartikel wat ek vroeër die week gelees het oor die musiekwinkels wat die Afrikaanse musiek CD’s terugstuur omdat dit nie verkoop nie. Die betrokke kunstenaars se kommentaar was “Mense het nie geld nie en daarom koop hulle nie ons CD’s nie.”

Wel …….my gevoel is dat daar vandag ‘n klomp Afrikaanse musiek is wat nie die moeite wêrd is om te koop nie. Die goed is kunsmatig, dit sê niks en die stem word elektronies deur die nuutste tegnologie ondersteun. Dis karaoke – en jy behoort behandel te word soos ‘n dronk Japanees.

Wel, voor ons nou in mekaar se karakters inklim oor wie se musiek is nou goeie musiek en wie s’n nie – net dit: Die res van ons besigheidsmense moet maar ons produkte en dienste aanpas en hard werk om kopers te kry. Hoekom sal die musiekbedryf nou anders moet wees.

Kyk, daar is min goed wat ‘n mens so emosioneel maak soos musiek. Daars van die goed wat jou oë tranerig maak en jou lippie sommer laat bewe as jy probeer saamsing so agter die stuurwiel. Jy raak boos en dan liefdevol en dan weer rebels en dan weer huilerig. En jy onthou vir Sannie en Saarjie en rooikop Jane en jy onthou vir James en Pitbek en Spike.

En jy sing vir Jane “When it comes to getting the dirty job done, I’ll take a red-headed woman……..It don’t matter how many girls you date, you don’t live till you had your ties roped in by a red headed woman.”

Vir jou bloed-broers sing jy “Staan by my my Bra, staan by my…….” en “We made our promise, swore we’d always remember. No retreat baby, no surrender”


The Silver Creek Mountain Band in Cradock: JP, Rod and Shugg (photo: from their Facebook page)

Musiek is kosbaar. Niks roer die gemoed soos musiek nie. So moet jou nie soos ‘n dronk Japanees gedra en dan betaal wil word nie.

(Hierso is ‘n tip: As die Silver Creek Mountain Band weer een van die dae in jou omgewing is – gaan luister. Hulle sing daai musiek wat ons garde onthou as goeie musiek. En hulle sing dit goed. Dis soos om jou en jou pêlle se ou LP’s weer uit te haal en hulle een vir een te speel. Jy sit agteroor soos in ‘n diep rusbank en luister en sing saam en word heeltemal nostalgies. Al die rebelle in jou staan weer op. Dis ‘n treat en jy sal nie wil ophou luister nie.)

Comments
Leave A Comment